Dis nie nuus dat ons elke dag bietjie ouer word nie – dat ons voorsiening moet maak vir eendag se aftrede en dat ons moet spaar vir ‘n pensioen nie. Tog leef meeste mense asof daardie dag nooit gaan aanbreek nie.
Dis ‘n groot wakker-word-oomblik as jy aan die einde van die inkomste genererende fase van jou lewe gekom het. Skielik is die realiteit voor jou en waar dit voorheen net ‘n intellektuele gesprek was, is dit nou ‘n emosionele werklikheid.
Hoeveel spandeer jy aan nonsens elke maand? Hoeveel goed koop jy vir ander mense wat hulle nie noodwendig waardeer of wil hê nie? Sit jy elke maand iets weg vir jou oudag of sê jy dat jy dit nie kan bekostig nie?
As jy in die toekoms kon insien en kon sien hoe jy vir die laaste 10jaar van jou lewe gaan krepeer van honger en ellende…sal jy dit dan kan bekostig om nou te spaar?
Miskien lê die uitdaging daarin om langtermyn te beplan en om nie net aandag te gee aan die korttermyn behoeftes nie. Om nie net vir die oomblik van NOU te leef nie – want jy gaan by die punt kom waar EENDAG, vandag is!