Moenie dat iemand jou vrede steel nie.

Ek het onlangs die voorreg gehad om met ‘n boot op die Keurboomsrivier te gaan vaar. By ons eindbestemming in die natuurreservaat het elkeen sy eie rigting ingeslaan. Ek het gaan swem in die pragtige bruin water tot ek my eie stukkie privaat rivier-strand gekry het.

 

Daar het ek gaan sit en stil wees – tot die eerste jafel met sy boot verby my gevaar het. Elke nou en dan het ‘n verbygaande boot golwe gemaak en die klein vissies op my stukkie paradys-strand weggejaag. Die lawaai het my vrede versteur en vir daardie oomblik of twee kon ek nie meer die voëls se liedjies hoor nie. Dit het my regtig vies gemaak.

 

Ek dink almal van ons ervaar dit soms. Ander mense se bote maak golwe in ons lewe. Hulle versteur ons vrede en steel ons vreugde met goed wat buite ons beheer is.

 

Maar jy kan kies hoe jy daaroor gaan reageer. Ek kon of bly sit met die boot frustrasie, of ek kon opstaan en by die res van my vriende aansluit. Ek het gekies om te bly, om vir die mense op die verbygaande bote te waai en om selfs meer waardering te hê vir die kosbare stiltes wanneer daar geen bote was nie. Tot my verbasing het ek agtergekom dat daar meer stil-tye was as boot-tye.

 

Moenie dat die golwe wat ander mense se besluite in jou lewe maak, jou vrede steel nie en bowenal, moenie dat hulle jou van jou spesiale plekkie af verjaag nie.