Kan Jy Frans Praat?

Om te reis is vir my een van die lewe se hoogtepunte maar lughawens is vol snaakse mense. Mense met onversorde voete en klere wat nommers te klein is vir hulle. Ou omies met lang hare, stoute kinders en mense wat in Afrikaans skinder sonder dat hulle besef jy verstaan elke woord!

Ek het onlangs ‘n treinkaartjie in Parys gekoop. Die vrou voor my in die ry het vir 40 min lank met my Frans gepraat. Ek het probeer verduidelik dat ek niks verstaan nie maar sy het net aangehou. Toe knik ek maar my kop en glimlag en praat met haar terug in Afrikaans wanneer dit lyk of sy wag vir ‘n antwoord. Ek het geen idee of sy gekla het oor haar 3de man se affair of haar nuwe kleinkind se doop nie maar wat dit ookal was, sy het gevoel sy MOET dit met my deel (en ek het saamgespeel 🙂

 

Maar ten spyte van ons verskil in styl (en soms gebrek daaraan) is ons tog so baie dieselfde. Ongeag van ons taal en kleredrag is ons almal lief vir iemand. Ons word almal kwaad, moeg en honger. Ons lag vir grappe (al is dit nie vir dieselfde grappe nie) en huil as iemand na aan ons doodgaan.

So kom ons wees bietjie meer verdraagsaam – al verstaan ons mekaar nie – want almal verlang na iemand . . .en elke mens het ‘n stuk seer in sy lewe.

Ek hoop die persoon waarna jy verlang is vandag by jou. . .